Volgens syfers van die departement van water en sanitasie het die riviervloei by Katlani naby Douglas, die eerste meetpunt ná die samevloei van die Oranje- en die Vaalrivier, sedert Maandag 13 Februarie skerp begin styg.
Die departement verwag dat dit vinnig gaan bly styg en voorlopig word voorspel dat dit teen Sondag 19 Februarie ’n spits van 2 200 kubieke meter per sekonde (kumek) kan bereik.
Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, sê boere maak gereed vir die hoër riviervlakke en begin pompe skuif. Teen vloei van 2 200 kumek kan die vloei by Upington sowat twee tot drie dae later dieselfde vlak bereik.