
Al die gesteelde goedere ter waarde van sowat R550 000 is teruggekry. Daar is vasgestel dat vier van die boer se eie werkers medepligtig aan die diefstal was. Mnr. Coetzee Erasmus van die plaas Karookom vertel sy buurman, mnr. Hugo Kirstein, se wagte het die nag van 28 Desember gesien daar draai minibus-taxi’s by die grondpad na hul plase in.
Hy het sy werkgewer gebel, wat saam met sy seun, Petrus, gaan ondersoek instel het. “Hulle het gesien die taxi’s kom op na my huis se kant toe en het hulle begin jaag. Teen daardie tyd was die sonneblomsaad en die gif reeds uitgedra en die helfte hiervan is uiteindelik in die taxi’s gevind. Ek het dit by die polisiekantoor gaan haal. Die ander helfte was reeds uit die skuur gedra, maar hulle kon dit nog nie laai nie.”
Erasmus was salig onbewus van die diefstal, want hy het aan die Weskus vakansie gehou.
“Donderdagoggend het Hugo my laat weet dat by my skuur ingebreek en my saad en gif gesteel is. Gelukkig het die landelike beveiligingsplan wat ons ingestel het, goed gewerk. Elke boer was op sy pos en en het sy deel gedoen om die vermeende diewe vas te trek. Ek is baie dankbaar teenoor hulle dat ek alles kon terugkry.”
Hy vertel dat daar reeds agt vermeende diewe in hegtenis geneem is en verdere verdagtes word steeds gesoek omdat die polisie nog aan die saak werk. “Vier van die taxi se mense en vier van my eie mense is in hegtenis geneem in verband met die diefstal.”
Hy sê hy het al dikwels gehoor dat saad gesteel of skure leeggemaak word, maar dat daar nie onlangs in sy omgewing sulke diefstal was nie. “Ek is nou besig om my saad in die grond te sit, voordat iemand dit weer steel.”