Altesame 21 boere van die Benede-Oranjerivier oorweeg regstappe oor die skade wat hulle weens die muggieplaag ly, sê Agri Noord-Kaap.
Mnr. Hoffie Joubert, ’n verteenwoordiger vir die organisasie, sê astronomiese verliese word tans deur boere langs die rivier vanaf Douglas tot by die see aangeteken.
Die regstappe gaan na verwagting teen die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ingestel word. Dié departement is verantwoordelik vir die bestryding van plae wat die landboubedryf bedreig, en die boere wil skadevergoeding van die departement eis.
“Die finale opname van veeverliese en verliese omdat werkers nie kan werk en oes nie, sal eers voltooi kan word as die plaag onder beheer is, maar dit gaan baie miljoene beloop,” vertel Joubert.
Bespuiting
Joubert sê die bespuiting van larwes wat verlede week sou plaasvind, is tot volgende week uitgestel. Hy sê toe alles gereed was ná die nodige proewe vir die gifmengsel gedoen is en die helikopter gereël was, het die larwes wat bespuit moes word, reeds uitgebroei.
“Alles was reg om Sondag te spuit, maar ’n gesamentlike besluit is geneem om dit eers uit te stel omdat die volgende geslag muggies toe al klaar uitgebroei het en die larftellings in die rivier te laag was,” sê Joubert.
Dié spuitsessie moes gevolg het ná die eerste spuitsessie, wat sowat R1 miljoen gekos het, misluk het. Die nodige proewe is nie voor die tyd gedoen nie, en die gifmengsel het nie die larwes doodgemaak nie.
Volgens Joubert sal die nodige gifproewe sowat twee dae voor die volgende spuitsessie onderneem word om te sorg dat dié sessie slaag.
Kyk hier na video's deur die Departement van Landbou oor die voorkoms van muggieplae.
29 September 2011