
Botha het op Mpumalanga Landbou se jaarkongres die skaarsheid aan goeie boere toegeskryf aan die verskeidenheid van vaardighede wat hulle moet hê.
“’n Tipiese boer vandag is nie net ’n landbouer nie, hy is ekonoom, veearts, dokter, dominee, onderwyser en selfs ingenieur, ’n beroep wat uiters skaars is. Volgens ’n wêreldvooruitskouing gaan boere oor 10, 20 jaar die Lamborghini’s ry en nie meer die ‘whiz kids’ en bankiers nie. Suksesvolle kommersiële boere is nie net skaars in Suid-Afrika nie, hulle is regoor die wêreld skaars.”
Hy sê dit gaan baie beter met die ekonomie as wat mense dink. “Ons het verlede jaar afgesluit met ’n rekordhoë gemiddelde, reële persoonlike besteebare inkomste in die land. Dit het gestyg van R24 000 tot R34 000 en dit kan binnekort R40 000 word. Dit beteken ’n groter vraag na die toegevoegde waarde-komponent van landbouprodukte en dit is goeie nuus vir landbou.”
Feite
Hy sê sy optimisme spruit uit feite. Dit is die elfde agtereenvolgende kwartaal wat die ekonomie groei, kleinhandelverkope op ’n rekordvlak lê, nuwe voertuigverkope baie goed styg, die Johannesburgse effektebeurs goed herstel het, inflasie daal en die rentekoers nie gaan styg nie. Hy sê dit is alles aanduidings dat dit eintlik goed gaan en vorentoe net beter sal raak.
Mnr. Koot Claassen, wat as voorsitter van Mpumalanga Landbou uitgetree het, het in sy laaste voorsitterrede ook oor die landbousektor se potensiaal gepraat en gesê vir alle lande is voedsesekerheid van deurslaggewende belang en regerings besef dit. Hy sê volgens die Wêreldbank sal daar in die volgende 50 jaar meer voedsel geproduseer moet word as alle kos wat saam die afgelope 10 000 jaar geproduseer is.