
Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee en lid van dié boerevereniging, sê hulle vra al sedert April verlede jaar vir die departement van vervoer en openbare werke om teer vir die twee paaie se herstel te verskaf. Daar kon egter nie langer gewag word nie aangesien dit strooptyd is en boere se produkte vervoer moet word.
Vanaf 2 tot 5 Mei het verskeie boere en plaaswerkers gewerk om dié twee paaie in die Vrystaat begaanbaar te maak. Daar is ongeveer 20 sleepwavragte gruis vir die herstel van die R505 aangery. Die boere het die werk op hul eie koste en met hul eie toerusting gedoen.
Mnr. Gernie Botha, uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou, noem dat die organisasie al talle versoeke tot die kantoor van die Vrystaatse premier, me. Sisi Ntombela, gerig om die toestand van paaie met haar te bespreek.
“Hoewel ons erkenning van ontvangs op die versoeke gekry het, kon ’n vergadering nog nie belê word nie.”