Vir produsente van gewasse wat hoofsaaklik op die uitvoermark gerig is, is daar ook onsekerheid oor Transnet se vermoë om bottelnekke wat in 2020 by hawens veroorsaak is, te takel.
Logistieke probleme weens Covid-19 was die afgelope jaar ’n groot bron van frustrasie vir vrugte-uitvoerders, sê mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van Subtrop, die oorkoepelende organisasie vir subtropiese gewasse. “Wanneer ’n werknemer Covid-19 sou opdoen, is die hawens gesluit en moes daar eers ’n intensiewe skoonmaakproses wees. Dit het haweskedules vertraag.”
Eintlik is verskeping oor die algemeen ’n kwessie, sê Donkin. Selfs sonder Covid-19 is daar probleme met toerusting wat verouder is en nie in stand gehou word nie. Die verval van infrastruktuur en gelyktydige groei van die ekonomie haal Suid-Afrika se uitvoerbedrywe die afgelope paar jaar ál vinniger in.