
Die verdubbeling van die gebiede wat onder grootskaalse besproeiing in Afrika suid van die Sahara is, sal nie voldoende wees om in die vraag na voedsel in 2050 te voorsien nie.
’n Groter fokus is nodig op beleggings in kleinskaalse besproeiingskemas vir kleiner boere wat ’n wesenlike verskil kan beteken, meen ’n kundige.
’n Verslag van die Internasionale Waterbestuursinstituut (IWMI) sê al hoe meer kleinboere in die streek begin kleinskaalse besproeiing onderneem soos wat droogtes voedselvoorrade bedreig. Luidens ’n berig op Business Day Live kan kleinskaalse besproeiingstegnologie gewasoeste met tussen 75% en 275% verbeter.
Dié skemas word gewoonlik op gebiede kleiner as 2 hektaar toegepas. Boere begin en finansier dié projekte en toerusting gewoonlik as individue of in klein groepe. Laekoste-tegnologie, soos emmers, waterkanne of pompe, word daarvoor gebruik.
Versekering
Mnr. Colin Chartres, IWMI se direkteur-generaal, sê: “Dit (kleinskaalse besproeiingskemas) sal nie die behoefte aan stapel-graankosse oplos nie, maar dit sal boere meer versekering gee teen ’n voedselkrisis.”
Suksesvolle voorbeelde wat in die verslag genoem word, wys syfers in Ghana en Burkina Faso uit. Sowat 185 000 ha is onder kleinskaalse besproeiing in Ghana, en dit is tot die voordeel van sowat ’n half miljoen kleinboere.
Sowat 170 000 boere in Burkino Faso gebruik kleinskaalse besproeiing, en die hoeveelheid groente wat in dié land geproduseer word, het tussen 1996 en 2005 van 60 000 ton tot 160 000 ton toegeneem.
“Ons gaan met maniere vorendag moet kom om watergebruik veel verder te laat gaan as ons 70% meer voedsel teen 2050 met sowat 10% minder water as vandag moet produseer,” aldus Chartres.
Bron: Business Day