
Mnr. Japie van der Goot, ’n boer van Vivo, voorsitter van die Vivo-boerevereniging en lid van die veiligheidsdagbestuur van die Soutpansberg-Wes-gebied, sê wilddiefstal, onwettige jag en diefstal van kabels, elektriese motors op spilpunte, transformators en skakeltuie wat die verspreiding van elektrisiteit moontlik maak, raak net erger.
Die impak daarvan is enorm op besproeiingsboerderye in die Soutpansberg-Wes-gebied, wat die distrikte Vivo, Alldays en Waterpoort insluit. As daar boonop beurtkrag is, kan boere dikwels dae aaneen nie hul gewasse besproei nie.
“Benewens die fisieke skade aan kragstelsels wat vervang moet word, kan dit beteken ’n gewas kan vir tot drie dae nie besproei word nie,” sê Van der Goot.
“As ’n Eskom-transformator gesteel word, kan jy tot ’n week wag voordat hulle dit vervang. Jy verloor ’n oes en die skade raak ongelooflik groot.
“Saam met beurtkrag, wanneer jy reeds min ure het om te besproei, en jy dan as gevolg van diefstal nog ’n dag of twee tussenin staan, het dit ’n enorme effek op ons oeste. Daar word baie groot skade so gely.”
Volgens Van der Goot het dit ook ’n uitwerking op boere ten opsigte van plaaswaglede en reaksiegroepe wat snags moet patrolleer en die kamerastelsels wat hulle teen groot koste moes oprig.
Georganiseerde sindikate
Van der Goot sê mense steel nie meer wild net vir kos nie, dit het besighede geword. “Dis sindikate wat met voertuie georganiseer is, mense met selfone wat afgelaai word, jag en die vleis verkoop. Van hulle is gewapen. Daar word nou ook beeste, skape en bokke geslag en gesteel.”
Hy sê hulle werk nou saam met die polisie en hul taakspanne, soos die veediefstaleenheid en spesialiseenhede wat met kabeldiefstal werk, maar sê dis net individue met wie hulle saamwerk en wat hard probeer.
“Daar is ’n groot klomp (polisiebeamptes) wat nie regtig doen wat hulle moet doen nie, of wat lyk of hulle op ’n manier betrokke is by die misdaadgroepe, wat nie regtig optree nie en maar net onaktief is.”
Min mense word gevonnis. Al vang hulle en polisielede van die vermeende misdadigers en gee hulle die inligting wat hulle insamel vir die polisie, is daar baie wat nooit skuldig bevind word nie.
“Dis net die polisie en vervolgingsgesag wat daardie dele kan hanteer. Ons kan nie daar ’n verskil maak nie. Mense wat op heter daad betrap word met bewysstukke, loop ná twee weke weer vry.”
Hulle het al oor die koper- en vleisdiefstal inligting ingewin van waar dit verkoop word. “Dis tipe dinge wat misdaadintelligensie moet opvolg, maar daar word nie ’n groot impak gemaak nie.”
Briewe aan Limpopo-ampsdraers
Luidens ’n nuusverklaring deur me. Marcelle Maritz, VF Plus-LPW en provinsiale leier van die party in Limpopo, word kabeldiefstalsake wat by die polisie aangemeld word, nie opgelos nie. Polisiekantore op Mara, Alldays, Mogwadi en Waterpoort het ’n tekort aan voertuie en mannekrag om sulke sake te ondersoek.
Volgens haar was daar van Januarie 2022 tot Desember 2022 148 onopgeloste diefstalsake.
Die party het lt.genl. Thembi Hadebe, Limpopo se provinsiale polisiekommissaris, versoek om dringend met die stasiebevelvoerders van die onderskeie polisiekantore te vergader om die tekort aan mannekrag en voertuie op te los.
Hulle het ook versoek dat me. Florence Radzilani, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, ’n oorsigbesoek vir die wetgewer se portefeuljekomitee vir veiligheid aan die betrokke polisiekantore reël.
“Dit is belangrik dat wetgewerlede self die toedrag van sake bepaal. Dit is duidelik dat ingryping dringend nodig is by hierdie polisiekantore.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.