
Boere wat asem opgehou het oor gebrekkige weiding en moontlike krisisse om hul vee te voer, is uiters verlig oor die eerste lentereën wat oor groot dele van die land uitsak.
Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), sê in verskeie dele in die noordooste van die provinsie het 100mm reën en meer sedert Woensdagaand (5 September 2012) geval.
Hy sê weiding in dié dele van die provinsie is kritiek. “Die ouens het begin praat van maermaak-maand, wat September sonder dié reën sou wees, en dan doodmaak-maand, wat Oktober sou wees. Die verligting is dus baie groot.”
Kriek sê die reën is ook baie goeie nuus vir koringboere in die Oos-Vrystaat, wat weens ’n gebrek aan reën in September en Oktober die afgelope twee jaar swakker oeste gehad het. “Dié boere is dus verheug, want dié reën beteken dat hul oeste vanjaar suksesvol kan wees.”
Suid-Vrystaat en Noordwes
In die suide van die Vrystaat het min tot geen reën geval nie en is boere nog bekommerd oor voer en weiding. Mnr. Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van die VL, sê in die distrik Warden is sowat 70mm gemeet, terwyl metings by Bethlehem, Memel, Harrismith en Kroonstad tussen 20mm en 130mm wissel.
Dorpe wat watertekorte ervaar, het ook nog nie behoorlike reën gehad nie. Mnr. Martin Detering, die VL se streeksverteenwoordiger op Senekal, sê tussen 20mm en 30mm is in dié distrik gemeet. Die dorp het die afgelope maand nie meer water nie, en deurdringende reën van 100mm of meer is nodig om dié droogte te breek. Detering sê Marquard en Clocolan, wat ook ernstige watertekorte ervaar, het sowat 30mm reën gehad.
Mnr. Boeta du Toit, hoof uitvoerende beampte van Agri Noordwes, sê soos wat voorspel is, het reën dié week basies in die oostelike dele van die provinsie geval. “Op Klerksdorp is so 20mm gemeet en so 40mm by Hartebeesfontein. Die westelike dele van Noordwes het nog nie reën gehad nie, maar Du Toit sê hulle is dankbaar dat die reën al begin val het.
Gauteng en Mpumalanga
Intussen meet boere in dele van Gauteng en Mpumalanga 100mm en meer sedert Woensdag (5 September 2012). Mnr. Neels Ferreira, voormalige voorsitter van Graan SA, sê op sy plaas tussen Ogies, Delmas en Leandra het hy tot dusver 115mm gemeet, en die reën val nog.
Mnr. André Botha, voorsitter van Agri Gauteng, sê boere in dié provinsie is baie opgewonde oor die reën. Sommige het wel skade gely, “maar die oorgrote meerderheid kry sag en deurdringende reën. Die gronddamme is vol en die veld kan nou begin herstel.”
Botha sê hy het in ’n dag se tyd naby Devon sowat 100mm op sy plaas gemeet.