
Verlof tot appèl is toegestaan aan die 15 boere wat die Salem-grondeis betwis.
Regter Cassim Sardiwalla het in Mei vanjaar 'n opskudding veroorsaak toe hy in Grahamstadse Grondeisehof in die guns van die grondeisers, wat bekend staan as die Salem-gemeenskap, beslis het. Die beslissing sou Seksie 2 van die Restitusie van Grondregte Wet 22 van 1994, waarvolgens die afsnypunt van grondeise Junie 1913 is, betwisbaar maak.
“Ons het nou weer hoop,” sê mnr. Ezra Schoonbee van die plaas Weltevreden. Hy is een van 15 boere wat sedert 2002 die grondeis teenstaan.
Salem is 20 km suid van Grahamstad in die Oos-Kaap geleë. Die grond wat deur die eis geraak word beslaan sowat 5 000 ha en sluit die historiese Methodiste kerkie, wat 'n nasionale monument is, en die krieketveld, in.
Die grond, wat deel uitmaak van die groter Zuurveld-gebied tussen die Vis- en die Sondagsrivier, is in 1848 aan setlaars gegee om as gemeenskaplike grond te bestuur. Slegs mense wat erwe op die dorp gehad het, kon van die grond gebruik maak.
Die aanvanklike grondeis is in Maart 2002 deur mnr. Mtutezeli Madinda as verteenwoordiger van die Salem-grondeiserskomitee ingedien, ingevolge die wet op die voorsiening van grondrestitusie.
Schoonbee sê baie van die boere was bereid om die grond te verkoop mits hulle markwaarde daarvoor kon kry. Toe die waardasie van die grond plaasgevind het, was daar egter geweldige verskille in die hoeveelhede wat aangebied is. “Party boere kon vir soveel as R17 000/ha hulle grond aan die Regering verkoop terwyl ander minders as R4 000/ha aangebied is,” sê hy.
Van die aanvanklike eis van sowat 7500 ha is sowat 1600 ha aan die Regering verkoop is en dit word nou deur die gemeenskap bestuur. Volgens die kommersiële boere word die grond glad nie winsgewend bedryf nie. Sowat 200 families woon op die grond en dit ontwikkel in 'n plakkerskamp.
Die gemeenskap wil nie restitusie hê nie, maar die grond self.
Die saak sal volgende jaar in die Appèlhof in Bloemfontein dien.