Boere sou kon help om die lot van die flaminke in die Kamfersdam te verbeter deur die water vir besproeiing te gebruik, maar die water is egter te sout daarvoor.
Luidens ’n berig in Volksblad staan Kimberley die kans om een van sy grootste, natuurlike juwele, die kleinflamink-kolonie in dié dam, te verloor.
Mnr. Mark Anderson, voorsitter van Birdlife Suid-Afrika, sê die dam is te vol en die water wat in die dam vloei, se gehalte is kommerwekkend. Hy meen die water kan uiters nadelige gevolge vir mens en dier inhou.
Besproeiing
Mnr. Hennie Erasmus, ’n omgewingskonsultant, sê hy het onlangs die dam se water getoets vir ’n boer wat dit vir besproeiing wou gebruik. “Die water is egter te sout en sal enige gewas laat vrek. Die hoogste soutinhoud wat al in die dam gemeet is, was sowat 33% dié van seewater. Die water word ook nie behoorlik gesuiwer nie.”
Erasmus sê omdat die dam te veel water het sal dit tot die dam en die flaminke se voordeel wees as boere daaruit kon besproei. “Flamink-eiland is reeds sowat 2 meter onder water, so daar is genoeg water.”
Erasmus sê dit is al oorweeg om die water te ontsout, maar dié proses is te duur.
Rioolaanleg
Volgens die berig werk die Homevale-rioolaanleg, ten spyte van ’n R80 miljoen se opknappingsprojek, slegs teen ’n derde van sy kapasiteit. Dit is glo een van die groot probleme met die dam se watergehalte.
Anderson sê voordat die dam oorspoel het, was daar sowat 80 000 kleinflaminke. Sowat 500 is tans oor, en daar is geen kans dat hulle kan broei nie.
“Dis te wyte aan die hoë watervlak, die swak watergehalte en die teenwoordigheid van alge. Kimberley loop die gevaar om een van sy grootste bates te verloor.”
Bron: Volksblad
17 November 2011