Boere sal ingevolge wetgewing voortaan nie meer in die Wes-Kaapse drankmaatskappy KWV se direksie mag dien nie.
Dit volg nadat die maatskappy hand in eie boesem gesteek het oor sy voldoening aan die bepalings van die Wet op Mededinging. Dié wet laat nie regstreekse mededingers in maatskappye se direksies toe nie.
Die maatskappy se direksiesamestelling sal dus heroorweeg moet word. Volgens mnr. Thys Loubser, uitvoerende hoof van die KWV, sal die KWV verskeie stappe moet oorweeg om te verseker hy is in pas met die wetgewing.
Tans bestaan die KWV se direksie uit mnre. Jannie Mouton, Thys du Toit en Antonie Jacobs van Zeder, Khutso Mampeule van Withmore 1 (voorheen Phetogo), mee. Leatitia van Dyk van die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool en Fran du Plessis (’n regs- en finansgeleerde), Loubser en mnre. Neil Ellis (Neil Ellis Wyne), Philip Retief (Van Loveren) en Abrie Botha (verteenwoordiger van VinPro wat in sy persoonlike hoedanigheid ook voorsitter van Namaqua Wyne is).
Laasgenoemde drie mense is kommersieel in die wynbedryf betrokke en hul posisies sal heroorweeg moet word.
“Ons gaan dit uitfaseer, maar sal nie oornag van al die boere ontslae raak nie. Ons wil met ’n plan vorendag kom sodat byvoorbeeld VinPro vorentoe steeds verteenwoordiging in die direksie sal hê.”
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 8 Oktober 2010.
4 Oktober 2010