
Selfs waar sommige boere met mekaar behoort saam te werk, gebeur dit nie, het dr. Theuns Eloff op Agri Wes-Kaap se kongres gesê.
Hy was een van die genooide sprekers en sy tema was om oor brugbou te praat. Eloff is onder meer voorsitter van die raad van Astral Foods en uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.
Eloff het ‘n voorbeeld oor brugbou uit die pluimveebedryf geneem: “Boere plant mielies en soja, en ander boere laat eiers lê en laat kuikens uitbroei. Die pluimveebedryf neem daardie kuikens, gee hulle voer en verkoop hulle ná 33 of 34 dae aan die verbruiker. Tussen die pluimveeboere en die mielieboere moet tog ‘n samewerking, ‘n brug, wees. Hulle is produsent en kliënt. Maar die brug is nie werklik aanwesig nie.”
Eloff het vyf brûe genoem wat hy belangrik ag vir die landbou om groei te bevorder.
* Tussen ekonomieë van lande, inter-Afrika en internasionaal. “Vir handelsbande moet die brug wees dat ons met ons uitvoere daardie lande van kos voorsien, veral in Afrika. Wat die res van die wêreld betref, is daar waarskynlik meer voordeel vir ons as vir hulle, maar dit balanseer handelsbetrekkinge. Sommige Suid-Afrikaanse maatskappye doen steeds goed in Afrika, veral in die kleinhandel. Uitvoere bly belangrik, maar vir ander bedrywe bied minder ander Afrika-lande op die oomblik beleidsekerheid vir verdere beleggings.”
* Tussen die landbou en politieke leiers: Die georganiseerde landbou weet dat ‘n gesonde en respekvolle verhouding (hoewel nie noodwendig vriendelik nie), met politieke leiers nodig is. Daarvoor is dit nodig dat die landbou sy waarde as sektor wat tot die oplossing van die land se probleme bydra, weer en weer moet bewys. Die negatiewe persepsies oor boere (veral wit boere) loop steeds diep – en word ongelukkig hier en daar deur onverskillige mense verstrek. “Ons het ‘n voortudrende taak om ons goeie trou te bewys.”
* Tussen die landbouer en sy/haar gemeenskap: ‘n Klein deel van die persepsieprobleem bestaan op plaaslike vlak. Daarom is die brug tussen die boer en sy of haar gemeenskap so belangrik. Die gemeenskap moet sien en verstaan dat die landbouer die gemeenskap se behoeftes ter harte neem, en saam met hulle werk om daaraan te voldoen. Die stelsel van die jeugloonsubsidie kan nog beter benut word om jongmense uit die gemeenskap met ‘n werkgeleentheid en noodsaaklike ervaring te help.
* Tussen die ongeskooldes en onopgeleides en die geskooldes en opgeleides: Die landbou is een van die min sektore waar ongeskoolde mense volledig en met respek benut kan word. En dis op hierdie samelewingsvlak waar die grootste werkloosheid te vinde is. Maar meer nog, ongeskooldes in die landbousektor verkry vaardighede wat hulle andersins nie sou gehad het nie. Dit vergroot hulle eie arbeidswaarde, maar ook hulle selfrespek.
* Tussen die verskillende sektore in die landbou, die sogenaamde waardeketting: "Een saak wat ons as Suid-Afrikaners nie goed doen nie, is samewerking tussen verskillende subsektore van die landboubedryf."
Eloff het ter afsluiting gesê: “Hou op kla oor goed waaraan ek en jy niks kan doen nie, en sit jou energie in wat jy kán doen! Ek hou van die opmerking dat ons moet ophou om polities korrek te wees. Doen wat jy moet en wil doen en wat reg is, en laat die politieke korrektheid oor aan die akademici.
“Kyk soms nuut na die landbou, veral vir nuwe geleenthede vir groei. Een voorbeeld is die min sojabone wat in Suid-Afrika geplant word. Ons moet die meerderheid van ons sojabehoeftes invoer. Die prys is goed.. hoekom nie?”