Gauteng se boere het die grootste invloed op die verbruikersmark se siening van boere, het dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, op Agri Gauteng se kongres gesê.
Die kongres is by die Landbounavorsingsraad (LNR) se proefplaas naby Irene in Pretoria gehou. “Die boere van Gauteng is die naaste aan ons grootste groep verbruikers. Julle beïnvloed hoe die mense oor ons dink en daarom is julle die sleutel tot die beeld van die landbou in ons land.”
De Jager sê eindverbruikers is die belangrikste belanghebbendes in die voedselketting en moet as bates gesien word. “As ons hul harte verower het, het ons ’n reg om hier te wees.”
Staan saam
Hy sê daar is heelwat idees binne Suid-Afrika oor die rigting wat die landbou moet inslaan.
“Die belangrikste idees is boere s’n. Ongelukkig is dit nie genoeg om ’n geldige mening te hê net omdat jy al jare lank boer nie. Die samelewing vereis dat jy namens baie mense moet praat. Ons heil is in saamstaan.”
Daar is nie ’n ander land waar die verhouding tussen aantal verbruikers teenoor aantal produsente hoër is nie, sê De Jager. “Ons raak minder, nie meer nie. Die dae dat iemand kan gaan boer omdat hy nie wil leer nie is verby. ’n Boer moet deesdae ’n kenner wees op talle terreine. As jy nie bereid is om die pad te stap nie, sal jy uit die landbou verwyder word.”
14 September 2010