
Die oesskatting vir mielies, wat aan die begin van die jaar 14,53 miljoen ton was, is tot 15,02 miljoen ton aangepas.
“Ten spyte van ’n effense daling in verlede seisoen se oesskatting is hierdie volumes steeds aansienlik hoër as die tienjaargemiddelde. Omdat plaaslike verbruik gewoonlik sowat 11,8 miljoen ton is, sal daar ’n gesonde surplus vir uitvoer beskikbaar wees,” sê Makube.
Hy meen dat hierdie surplus, tesame met die feit dat internasionale mieliepryse hoog bly, beteken dat omstandighede gunstig is vir nog ’n goeie finansiële jaar vir mielieboere, asook die meeste graanboere in Suid-Afrika.
Hierdie gunstige neiging rondom opbrengste en pryse, wat al die afgelope twee jaar voortduur, het volgens Makube gelei tot ’n goeie inkomste en kontantvloei vir die meeste Suid-Afrikaanse graanboere. Dit het ook gunstige gevolge vir ander bedrywe in die landbousektor gehad, soos die verkope van masjinerie wat gestyg het. Die verkope van trekkers en stropers het van die begin van die jaar tot Julie vanjaar met onderskeidelik 20% en 50% verbeter vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Bly versigtig met besteding, maar hou aan belê
Ten spyte van hierdie gunstige ontwikkelinge en onlangse finansiële meevallers, waarsku mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Agribesigheid, dat boere versigtig met hul uitgawes te werk moet gaan aangesien die landskap moontlik reeds begin verander het.
“Hoewel kostedruk weens die drastiese styging van kunsmis- en brandstofpryse onlangs effens begin afneem het, bly dit steeds hoog vergeleke met die vorige seisoen. As die verhoogte koste gevoeg word by die moontlik ongunstige impak van stygende plaaslike en internasionale rentekoerse op verbruikersvraag, is versigtige besteding seker die beste beleid vir enigiemand in die landbousektor.”
Dit beteken egter nie dat boere nie in die toekoms van hul ondernemings moet belê nie, dit moet net op ’n weldeurdagte manier gedoen word.
“Net soos dit nooit raadsaam is om op boerdery-ondernemings te oorkapitaliseer nie, is dit ook moontlik om oorversigtig te wees en jouself in bankrotskap in te spaar. Die mees omsigtige benadering is om die huidige gunstige finansiële posisie te gebruik om waar moontlik en gepas in nuwe en produktiewe tegnologie te belê, asook te verseker dat jy ’n goeie finansiële buffer handhaaf vir wanneer omstandighede minder gunstig word, soos die sikliese aard van die landbou uiteindelik sal vereis.”
Ten spyte van die goeie opbrengste wat die meeste boere die afgelope twee jaar geniet het, bly marges volgens hom steeds skraal. “Daar was onlangs tekens van ’n effense ekonomiese herlewing danksy dalende voedselinflasie en brandstofpryse, maar dit is heeltemal te vroeg in die huidige inflasionêre siklus om te sê of dit die einde van die opwaartse neiging voorspel.
“Omdat daar altyd ’n noemenswaardig sloerfase ten opsigte van die deursyfering van inflasionêre neigings deur die sektor is, sal druk op marges waarskynlik nog ’n tyd lank voortduur. Boere word aangeraai om ’n demper op hul optimisme te plaas met ’n goeie skeut realistiese vewagting daarby, asook omsigtigheid aan die dag te lê namate ons die nuwe plantseisoen binnegaan.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.