Boere moenie hul toekomsvisie verloor nie en hulle voorneem om ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Dit is mnr. André Botha, voorsitter van Agri Gauteng, se boodskap en uitdaging aan die organisasie se lede.
Hy het tydens sy voorsittersrede by die organisasie se jaarkongres in Pretoria opgemerk dat die boerderygemeenskap “te veel gewag maak oor die goed wat gesê word op politieke forums wat ’n invloed op ons het”.
Ontleed inligting
“Ons as boere het ’n geneigdheid om dit wat in die openbare media gesê word op onsself van toepassing te maak en mekaar opgeklits te kry. Kom ons ontleed daardie inligting in die media,” aldus Botha.
Hy moedig boere ook aan om te besluit of dit vir hulle die moeite werd gaan wees om aandag te gee aan die inligting wat hulle uit die media kry.
“Ons moet in gedagte hou die media het ’n rol om te vertolk, maar ons moet op boerevereniging-vlak die inligting ontleed en verwerk en besluit of ons aandag daaraan gaan gee.”
Volgens Botha is dit belangrik dat boere en Afrikaners moet vergeet van die regte wat hulle het, “maar hulle moet eerder vra, watter verantwoordelikheid plaas my regte op my."
"Dit is dus ons verantwoordelikheid om verhoudings met die verskeie rolspelers te bou en ’n verskil te maak, en as jy nie daarby uitkom nie, kan jy nie die reg hê om jou regte op te eis nie.”
Intussen is ’n nuwe korporatiewe beeld vir die organisasie geskep, en is ’n webtuiste geskep waarop die organisasie gereeld inligting aan hul lede gaan verskaf. Dit sal binnekort lewendig wees.
8 September 2011