Boere moet nie onkundig wees oor omgewingswetgewing en die invloed wat dit op hulle doen en late het nie, sê me. Lucinda van Rensburg, besturende direkteur van Implex Legal Compliance Solutions.
Van Rensburg sê die definisies ten opsigte van omgewingswetgewing fokus op alle individue wat enigsins iets met die omgewing te doen het.
“Wie is verantwoordelik?” het Van Rensburg aan afgevaardigdes na vanjaar se AllFresh-konferensie gevra. “Die definisie sê die persoon wat die grond besit, die een wat die grond bestuur en die een wat die reg gegee is om die grond te gebruik.”
Sy sê grondeienaars en bewerkers moet nooit vergeet dat wetgewing hulle verantwoordelik hou vir die bewaring van grond nie. Daarby word ingesluit dat die nodige voorsorgmaatreëls moet bestaan om moontlike besoedeling of versteuring van die omgewing te beperk of voorkom.
Opleiding
Soos wat ’n boer aan ’n werker wat, byvoorbeeld, in ’n botteleer-aanleg werk, oorpluisies moet voorsien, moet ’n boer ook ’n werker oplei oor die invloed van die werker se daaglikse doen en late op die omgewing. Van Rensburg sê dit is een van die voorvereistes van die wet.
Sou ’n boer ingevolge oortredings van omgewingswetgewing vervolg word, kan dié vonnis ’n boete van tot R1 miljoen of tronkstraf van tot ’n jaar lank insluit.
Sy sê omgewingsgroepe is tans besig met mandate waarvolgens hulle dié boete wil laat verander soos wat dit binne die Mededingingskommissie se wette staan. Dít beteken dat die boete dalk as ’n persentasie van ’n boer se omset bepaal kan word.
Van Rensburg sê tans handel die meeste hofsake wat ingevolge die wet in howe verskyn oor die onwettige onttrekking van water uit riviere vir besproeiing.
27 Oktober 2011