
Drie senior amptenare van die departement van landbou in
Limpopo en vier boere van die distrik Vhembe word daarvan beskuldig dat hulle
saamgesweer het om die departement van R2 miljoen te besteel.
Luidens ’n verklaring sê kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die polisie se gespesialiseerde ondersoekeenheid, die Valke, dat die boere glo vals eise ingestel het vir vloedskade nadat die departement van landbou in die provinsie in die 2013-’14-boekjaar spesiale geld daarvoor beskikbaar gemaak het.
Hulle het na bewering met die amptenare saamgesweer toe hulle hul eise ingedien het vir goedkeuring. Die geld wat bedoel was vir kleinboere in die distrik Vhembe wat vloedskade gely het, is toe na bewering aan hierdie boere uitbetaal en hulle het dit op hul beurt met die amptenare gedeel.
Dié onreëlmatighede het tydens ’n forensiese oudit in 2020 aan die lig gekom en die ouditeurs het ’n saak van bedrog oopgemaak. Die saak is later na die Valke oorgeplaas.
Die verdagtes, waaronder die hoofdirekteur van die provinsie se departement van landbou, die direkteur en assistent-direkteur, sal op 2 Maart in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdade in Polokwane verskyn.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.