Grondeienaars en plaaslike owerhede is nou, ná ’n uitspraak op 12 April deur die Grondwethof, in ’n sterker posisie om landbougrond vir landboudoeleindes te beskerm.
Hulle is nie langer bloot uitgelewer aan die Departement van Minerale Hulpbronne en mynmaatskappye se besluite ten opsigte van mynregte nie. Die hof het bepaal dat mynregte voortaan onderhewig is aan ordonnansies wat gebruiksbeplanning op die betrokke grond rig.
Hersonering
Dit beteken dat in gevalle waar mynregte toegestaan is op grond wat nie daarvoor gesoneer is nie, hersonering voortaan goedgekeur moet word voor daar met mynbedrywighede daarop begin kan word. Die hof moes oor twee regspunte beslis.
Die eerste het gegaan oor die kwessie of mynregte onderhewig is aan die sonering van grond. In dié geval het die elf regters van die Grondwethof twee sake in hul besluit in ag geneem. Die sake het gehandel oor die Wes-Kaapse en Swartlandse munisipaliteit wat interdikte teen mynbedrywighede aangevra het op grond wat nie daarvoor gesoneer was nie.
In die geval van die Kaapse munisipaliteit was dit op sandduine in woongebiede van Mitchells Plain en in die Swartland was dit op ’n plaas. Me. Susan Shabangu, Minister van Minerale Hulpbronne, het in albei sake kapsie gemaak en dit in ál die howe – regdeur die hooggeregshof en die Appèlhof tot in die Grondwethof – betwis. In die proses is groot bedrae belastingbetalersgeld daaraan bestee.
Wetgewing
Shabangu het aangevoer nasionale mynbouwetgewing oorheers provinsiale en munisipale ordonnansies. Volgens die minister was geen ander toestemming vir mynbedrywighede nodig as ’n mynreg toegeken is nie.
Die hof het egter nie saamgestem nie. Volgens die regters bepaal die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (Wet 28 van 2002) dat die menings van ander betrokke partye in ag geneem moet word.
Die ander regspunt waaroor die hof moes beslis, het gehandel oor die kwessie of die mynmaatskappye slegs aan omgewingsvereistes van Wet 28 van 2002 moet voldoen of ook aan die omvattender vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Wet 117 van 1998).
Balans
Agri SA het in die Grondwethof aangevoer dat die voldoening aan dié wet tot ’n beter balans tussen die waarde van voedselproduksie op die lang duur teenoor die bydrae van die mynbou op kort termyn tot ekonomiese ontwikkeling sal lei.
Daarom was Agri SA én omgewingsinstansies teleurgesteld dat die hof op tegniese gronde besluit het om nie uitsluitsel te gee oor die argument dat myne aan vereistes van Wet 117 van 1998 moet voldoen nie.
“Die hof het nie die verdienste van die omgewingskwessie oorweeg nie. Daarmee is ’n kans verlore om belangrike kwessie te hanteer,” sê mnr. Greg Daniels van die omgewingsregsfirma Cullinan Prokureurs.
23 April 2012