
Nadat voornemens om grond van 12 Maart af te beset per brief versprei is, het die Tlakgameng-boerevereniging besluit om met die gemeenskap te vergader en oor hul probleme te praat.
Mnr. Gordon Brown, voorsitter van die vereniging, sê die vergadering het goed verloop. Die kommunale boere het hul frustrasie weens ’n gebrek aan weiding vir hul beeste beskryf. Die gebied was in die vorige era deel van Bophuthatswana.
“Soos wat ons ook met dienslewering van staatskant af sukkel, kom daar niks van die beloftes van grond aan hulle nie. Ons gaan nou saam met hulle met die owerheid in gesprek tree en kyk wat ons kan regkry.”
Hy sê hoewel daar gerugte was van drade wat geknip sou word om grond te beset, lyk dit of enkele kwaadstokers die uitlatings gemaak het. “Die gemeenskapsleiers het ons die versekering gegee dat dit nie sal gebeur nie en hulle verwelkom ons bystand. Ek meen ’n groot probleem was dat ons nie ’n direkte kommunikasiekanaal met mekaar gehad het nie.”
Brown sê die boerevereniging sal die gemeenskap met droogtehulp probeer bystaan en met die provinsiale regering in gesprek tree oor die beskikbaarheid van weiding op plase wat reeds aan die staat behoort.
“Deur saam te werk kan ons soveel meer bereik en ek hoop hierdie is die begin van ’n konstruktiewe verhouding waarmee ons ’n voorbeeld vir ander kan stel.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.