
Oeste onder besproeiing in die Noord-Kaap, een van die land se armste provinsies, word bedreig deur onreëlmatige beurtkrag en produsente vra dat daar saam besin moet word oor hoe beurtkrag met meer insig toegepas kan word om oeste onder besproeiing te red.
Die groep boere het ’n video vrygestel om aan Eskom se leiers te sê dat daar, te midde van die uitdagings, gekyk moet word na praktiese voorstelle oor hoe om saam te werk. “Ons moet vroegtydig ’n boodskap en ’n waarskuwing uitstuur aan almal in Suid-Afrika dat mense afgelê gaan moet word as Eskom nie dringend begin om beurtkrag gekoördineerd met boere se insette toe te pas nie,” was die versoek aan Eskom toe die groep produsente byeen gekom het.
Mnr. Jaco Cilliers, ’n boer van die omgewing, het gesê hulle het 30% tot 40% minder krag as wat hulle normaalweg sou hê as gevolg van beurtkrag, maar kragrekeninge is op met 40% of meer.
Ruraflex kan nie meer benut word nie, omdat spilpunte aangeskakel moet word wanneer daar ookal krag beskikbaar is, selfs in duurder periodes. “Ons pomp die meeste van die tyd nou in rooi tye waartydens ons kragrekeninge opgejaag word.”
Hy sê spilpunte gebruik die meeste krag kort nadat dit aangeskakel is, wat nou drie na vier keer ’n dag moet gebeur, teenoor een keer of dalk twee keer ’n week onder normale omstandighede. Dit het ’n groot invloed op boere se kragrekeninge.
“Ons weet ook nie watter krag ons môre gaan hê nie. Dit beteken dat ons mielies of aartappels moet oorbesproei wat nie op daardie huidige oomblik ’n behoefte aan water het nie, want ons weet nie of ons volgende week krag gaan hê nie. Dit is nie gesond nie. Ons kan nie meer skeduleer en water gee soos ons moet nie.”
Cilliers sê aan die ander kant kry van die gewasse tans amper net die helfte van die water wat dit moet kry. Onegalige bemesting word ook gedoen omdat dele gemis word soos die krag aan en af gaan.
Mnr. Gerhard Bruwer, wat naby Douglas boer, sê die armes gaan die seerste kry as die probleem nie aangespreek word nie. “Kerke gaan seerkry. Skole gaan seerkry. Die gemeenskap gaan seerkry. As beurtkrag nie verbeter nie, is daar ’n donker prentjie vir ons plattelandse gebied.
“In die platteland is almal eintlik afhanklik van die landbou. As dit nie verbeter nie, sal die platteland tot niet gaan en om hom weer op te tel, is amper onmoontlik. Ons sal dit nie op ons eie kan doen nie. Ons doen ’n beroep op Eskom om ons asseblief te help.”
Bruwer sê groot hoeveelhede kos word in Suid-Afrika onder besproeiing geproduseer. Hy sê as mielies onder besproeiing in die omgewing waar hulle boer gedurende bestuiwingstyd net een week se droogte kry, verloor ’n produsent die helfte van sy oes in een week. Verder verg dit fyn beplanning met riviere wat afkom met gepaardgaande vloedskade en besproeiingstyd wat verlore gaan weens pompe wat in en uit riviere gehaal moet word soos wat watervlakke wissel.
Nog ’n produsent, mnr. HF Cilliers, sê hulle pleitdooi is ’n noodkreet én ’n waarskuwing. “Die land gaan sonder voedsel sit as produksie onder besproeiing in Suid-Afrika nie reg bestuur word nie. Dit is die boodskap wat ons vandag aan Suid-Afrika en aan Eskom wil oordra. Gee ons asseblief bruikbare krag op die regte tye in beter inkremente sodat ons die oeste kan groot kry. Die goed lê en vrot op die lande want ons kry hulle nie natgehou nie.”
Hy vra almal moet om ’n tafel sit en ’n plan uitwerk vir die optimale koördinering van beurtkrag.