Ongeveer een uit vyf boere wat deelgeneem het aan navorsing van dr. Kandas Cloete vir haar PhD-proefskrif wat sy in die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het aangedui dat hulle beoog om die landbou binne die volgende tien jaar te verlaat (bit.ly/393iNYE). Vir haar proefskrif het sy die terugvoer van 450 deelnemers aan ’n opname oor grondgebruikspatrone oorweeg.
Volgens prof. Ferdi Meyer van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), is daar egter met kosproduksie nie ’n direkte verwantskap tussen die aantal boere en produksie nie.
“As ons na die driejaargemiddelde van die belangrikste grane en oliesade (mielies, koring, sojabone, sonneblom en kanola) kyk, produseer Suid-Afrika 5 miljoen ton meer graan as 10 jaar gelede.”