
Meer as 1 500 deelnemers sal na verwagting vanjaar aan die 33ste Hansa Visrivier-kanomaraton wat op 10 en 11 Oktober by Cradock gehou word, deelneem. Sowat 40 roeiers uit die buiteland het reeds vir die kompetisie ingeskryf.
Mnr. Pieter Marais van die plaas Biesiesbult by Hofmeyr en voorsitter van die reëlingskomitee, sê toe die marathon die eerste keer in 1982 aangebied is, was daar net 77 deelnemers was. Nou tel dit onder die wêreld se grootste vyf kanomarathons. “Wat dit so uniek maak is dat die massa water wat net voor die maraton uit die Gariep- en Grassridge- damme vrygelaat word, elke jaar dieselfde omstandighede en uitstekende stroomversnellings verseker.”
Die vaart begin op 10 Oktober by die Grassridge-dam en strek oor ’n afstand van 45,8 kilometer tot by die Knutsford-brug. Op die tweede dag roei deelnemers ’n verdere 36 km tot by eindpunt by die Cradock-sportterrein. Twee voormalige Springbokke, Tiaan Strauss en Corné Krige, sal vanjaar ten bate van minder bevoorregte kinders en die Vukasebenza-skuiling op Cradock deelneem.
Marais sê die groot aantal besoekers aan Cradock is ’n groot ekonomiese inspuiting vir besighede op die dorp asook verskeie liefdadigheidsorganisasie wat kos en drank verskaf. “Die gasteplase en die Hoër Landbouskool Marlow baat ook daarby aangesien die huisvesting wat hulle verskaf vir die duur van die marathon vol bespreek is.”
Foto hieronder: Almal boere en lede van die Hansa Visrivier-kanomaraton is van links mnre. Christiaan Moolman, van Moolenhof Cradock, Richard Glennie van Stockdale, Somerset-Oos en Pieter Marais van Biesiesbult, Hofmeyer wat die afgelope drie jaar voorsitter van die reëlingskomitee is .