
’n Goeie humorsin en volwassenheid is van die eienskappe wat moontlik aan ’n boerseun van Cradock sy titel as Matrikulant van die Jaar besorg het. Chris Hoffman, ’n leerling aan die Hoër Landbouskool Marlow, is die afgelope naweek in Bloemfontein as Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Matrikulant van die Jaar aangewys.
Luidens ’n berig in die koerant was Hoffman een van 14 topfinaliste in die kompetisie. Me. Esmé Aucamp, voorsitter van die beoordelaars, sê Hoffman se humorsin en volwassenheid het in besonder uitgestaan. “Chris is nie ’n voortvarende leier nie en ons was veral beïndruk deur die manier waarop hy probleme by sy skool aangepak en oplossings deurgevoer het.”
Droom word waar
Tydens sy toespraak het Hoffman gesê dié eer is ’n droom wat bewaarheid is. “Ek het in gr. 8 al van die wedstryd gehoor en daarvan gedroom om ’n finalis te word en hier staan ek nou as die wenner.”
Hoffman, wat hoofseun van sy skool en ’n kranige tennisspeler is, wen studiebeurse, kontant en ’n oorsese reis wat deur XL-Astra-reise geborg word. Hy het ook ’n Volkswagen Polo Vivo van Lindsay Saker ontvang wat hy ’n jaar lank kan gebruik.
Hoffman gaan volgende jaar aktuariële wetenskap aan die UV studeer.
Bron: Volksblad