
Mnr. Klasie Lombard en sy vrou, Estelle, boer die afgelope 48 jaar op die plaas Hoek van de Pan waar hy en sy drie broers, De Villiers, De Waal en Jannie, grootgeword het.
Klasie het aan Landbou.com gesê dat hy dankbaar was om weer saam met sy broers te verjaar. “Dit was altyd fantasties om verjaardae saam te vier toe ons klein was. Ons is altyd bederf en aandag gegee laat dit bars met verjaardae, wat ek dink ook ’n slegte ding kan wees,” skerts hy.
De Villiers woon tans op sy plaas Spioenkop in die distrik Winburg in die Vrystaat. Hy boer nie meer nie, maar het voorheen met beeste en skape geboer. Hy sê dat hy wonderlike herinneringe het van sy kinderjare. “Kleintyd is 30 waatlemoene van Kakamas bestel om ons verjaardae met ons klasmaats te vier. Vandag is ons al vier dwarsoor die land versprei en kan nie meer verjaardae saam vier nie.”
De Waal en Jannie het tot met hul aftrede by die departement van handel en nywerheid gewerk. “Ons vier het beslis ’n baie sterk, hegte band wat niemand kan breek nie. Ons leuse vir die lewe is definitief: Een vir almal, almal vir een,” sê De Waal trots.
Die vierling het ná hul militêre diens saam aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer voordat elkeen sy eie koers gekry het. Ondanks hiérdie skeiding, sê hulle dat dit nie hul hegte band sal versteur nie.
Jannie benadruk hierdie hegte band deur ’n nostalgiese herinnering aan hul jeug. “Toe ’n sterk, jong student een van ons wou omgooi, het ons al vier opgestaan vir mekaar en hom op sy plek gesit. Ons het altyd vir mekaar opgestaan,” sê hy.
“In ons kinderdae het ons altyd te kere gegaan omdat ons ekstroverte is, maar ons het altyd as ’n eenheid gefunksioneer, wat fantasties was,” sê Klasie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.