Die Heritage-groep bestaan uit vier van Suid-Afrika se oudste Angora-stoeterye, Martyrsford Angoras, Borden Angoras, Thorn Park Angoras en Wheatlands Angoras, met twee wat reeds in die 1800’s gestig is. Die veiling is op die geskiedkundige plaas Wheatlands in die distrik Graaff-Reinet aangebied. Die plaas behoort aan die oudkrieketspeler Arthur Short.
Volgens een van die telers, mnr. Sean Hobson van die Martyrsford Angoras, is hulle vier boere met dieselfde teelbeleid wat besluit het om hul eie Angora-ramveiling aan te bied.
“Ons stoeterye het ’n lang geskiedenis waar ons nou saamwerk en ons het dieselfde waardes met die teel van Angora-bokke. Ons wou hê die kopers moet na die veiling kan kom en verseker wees dat hulle belê in goeie teelmateriaal wat goeie waarde vir geld bied.”