
Die hoogste prys van R1 246,10/kg is uiteindelik betaal vir ’n baal van me. Gay en mnr. Jordi van Hasselt van Prins Albert. Dit is R350/kg meer as die vorige rekordprys van R896/kg wat verlede jaar opgestel is. Dié ma en seun het reeds verskeie internasionale pryse agter hul naam. Die Stucken-groep het die baal gekoop.
Die ander bale bokhaar wat vir meer as verlede jaar se rekordprys verkoop het, was R975,50 vir ’n baal van mnr. Piet Viljoen van Kleinpoort, R1 025,10 vir ’n baal van mnr. Billy Colborne van Willowmore, R1 042,20 vir ’n baal van mnr. Jan Lategan van Aberdeen en R1 043,00 vir ’n baal van mnr. Ray Hobson van Steytlerville.
Daar was vanjaar altesaam 18 inskrywings vir die kompetisie. Mnr. Paolo Zegna, voorsitter van die Ermenegildo Zegna-groep, het die boere geloof vir hul besonderse skeersels. Hy het vanjaar self die pryse aan die boere oorhandig.
“Ek kan met trots sê dat dit altyd ’n eer is om die ongelooflike prestasies van die Suid-Afrikaanse boere te erken. Ek wil al die deelnemers se harde werk erken en hulle aanmodig om na dieselfde vlakke van uitnemendheid wat vanjaar gesien is, te streef.”
Vanjaar se Zegna-trofeewenner vir die beste wol is mnr. Jan Lategan van Aberdeen. Mnr. Billy Colborne van Willowmore was tweede plek en mnr. Piet Viljoen van Kleinpoort derde.