Die weghol-veldbrand wat die Boland sedert die naweek teister, is glo onder beheer, sê Agri Wes-Kaap.
Mnr. Carl Opperman, hoof uitvoerende beampte, sê volgens die owerhede woed dié brand egter steeds in die denneplantasie naby Wolseley en onherbergsame dele van die Hawekwaberge.
“Hulle sê wel dat hulle die brand nou omgord het, en aan die binnekant probeer blus. As die wind egter weer gaan opkom soos in die vorige paar dae, gaan die brand weer versprei,” verduidelik Opperman. Beamptes en helikopters is steeds in die omgewing om die brand te bestry.
Luidens ’n berig in Die Burger (11 Januarie 2012), het die brand oor die naweek naby Wolseley ontstaan. Dit het na die Waterval- en Voëlvlei-natuurreservaat versprei, en Dinsdag (10 Januarie 2012) het dit in die rigting van Tulbagh en Gouda begin woed. Dit het Dinsdagaand die Nuwekloofpas bereik.
Voorbrande
Opperman sê die voorbrande wat die beamptes gemaak het, het egter die brand onder beheer gebring. “Sover ons weet, het baie van die dennebos en fynbos in die slag gebly. Ons het nog nie ’n enkele oproep van ’n boer ontvang wat sê hy is nou in die moeilikheid nie.”
Luidens die berig sê mnr. Roysten Harris, stasiebevelvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens, die brand het tot dusver sowat 40 km wyd gewoed. Een huis het in die slag gebly.
“Ons hoop nou net die wind hou,” sê Opperman.
Bron: Die Burger
11 Januarie 2012