Die brand in die Boland is onder beheer met die lug oor Tulbagh wat skoon is en as wat nie meer oral oor die distrik waai nie.
Mnr. Roysten Harris, stasiebevelvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste, sê die brand is onder beheer.
“Geen nuwe brande het vir ten minste ’n dag ontstaan nie. Ons is daarom vol vertroue dat dinge nou onder beheer is. Die brande het van Wolseley tot by Tulbagh gewoed,” sê Harris. Die brand het verlede naweek in die Hawekwaberge naby Wolseley ontstaan.
Harris sê volgens voorlopige skadebepalings het sowat 13 000 ha fynbos en 800 ha plantasies in die slag gebly.
Skoon lug
Mnr. Jannie Theron, voorsitter van die Tulbagh-boerevereniging, sê hulle is baie verlig dat die lug in Tulbagh tans skoon is.
“Die lug is vanoggend (13 Januarie 2012) skoon. Daar het die afgelope dae, na gelang van hoe die wind waai, ’n dik rookwolk oor die dorp gehang en die wind het die as oral gewaai.”
Theron sê hulle meen dat die ergste van dié brand verby is omdat die rook afgeneem het. Volgens Harris monitor brandweerbeamptes steeds die situasie by die plantasies in die omgewing.
13 Januarie 2012