Die elf vermeende renosterstropers wat daarvan beskuldig word dat hulle renosters vir hul horings geslag het, is deur die Magistraatshof op Musina op borgtog vrygelaat.
Luidens Algoa FM het die hof borgtog van R1 miljoen aan mnr. Dawie Groenewald, wildboer, toegestaan, terwyl sy vrou, Sariette borg van R100 000 toegestaan is. Dr. Karel Toet, een van die twee veeartse wat van stropery beskuldig is, is op borg van R50 000 vrygelaat terwyl sy vrou, Mariza, R20 000 borg betaal het.
Dr. Manie du Plessis, die ander veearts wat van ongerymdhede beskuldig word, is op R20 000 birg vrygelaat. Mnre. Tielman Roos Erasmus, Dewald Gouws, Nordus Rossouw, Leon van der Merwe en Jacobus Marthinus Pronk is almal op R20 000 se borg vrygelaat, terwyl mnr. Phil Matoromela R5 000 borg ontvang het.
Die voorwaardes van die beskuldigdes se borgtog sluit in dat hulle nie met die 32 renosters tans op Groenewald se plaas in Limpopo mag peuter nie. Hulle moes ook hul paspoorte en identiteitsdokumente inhandig en moet die Polisie ‘n week se kennisgewing gee voordat hulle die provinsie verlaat.
Die saak is tot 11 April uitgestel.
Die reg moet sy gang gaan
Intussen sê die TLU SA Noord die reg moet sy gang gaan en dat die beskuldigdes onskuldig is totdat hulle skuldig bewys word. Indien ‘n veearts skuldig bevind word in dié saak kan dit vertroue in die beroep “onnerstelbaar skend”, lui ‘n verklaring van die organisasie.
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter, het boere in Limpopo bedank vir hul bydrae tot die bekamping van renosterstropery.
22 September 2010