
Die staat het glo nie ’n sterk saak teen ’n boer van Lichtenburg en sy seun wat verlede week van moord aangekla is nie.
Op dié gronde en omdat geen bewyse van aanranding aan die hof voorgelê kon word nie, is mnre. Mathys en Danie Cloete Vrydagmiddag (7 September 2012) op borgtog van R2 000 elk vrygelaat.
Bewerings dat die Cloetes glo twee werkers met oorleikabels (jumper cables) geskok het, het verlede week vir groot kritiek in die media gesorg. ’n Verklaring is ook deur die Polisie uitgereik waarin beweer word dat die mans die werkers geskok het, en dat een van die werkers daarna oorlede is.
Lt. Tebogo Tleko, ondersoekbeampte, het luidens ’n berig in Beeld Vrydag in die hof gesê: “Volgens my ondersoek wys dit die oorledene is met motorkabels doodgeskok en die beskuldigdes het dit gedoen.” Onder kruisondervraging is vasgestel dat die nadoodse ondersoek eers Vrydag uitgevoer sou word.
Kunsmatige asemhaling
Mathys het getuig dat ’n werknemer genaamd Tonto hulle Maandag (3 September 2012) ingelig het dat twee bande en 25 liter se diesel gesteel is. ’n Man wat die gesteelde goedere gekoop het, is op ’n buurplaas gevind en die twee diewe aan die Cloetes uitgewys.
Danie het getuig dat die Vryburg-polisiekantoor nie iemand na die plaas kon stuur nie en dat die kantoor op Piet Plessis berug is vir uiters swak diens.
Die werknemers is glo aangekeer en ’n onderonsie het tussen die boere, die werkers, die koper en Tonto ontstaan. Danie sê hulle het die werkers in ’n skuur aan mekaar vasgemaak en hy het Kop (die oorlede werker) en Aron, die tweede werker, gedreig met ’n porstok (prodder) wat nie batterye ingehad het nie.
“Toe, skielik, val hy reg agteroor. Die ander werkers het gesê dié epileptiese aanvalle gebeur baie met hom, veral ná hy gedrink het. Ons het hom losgemaak en water oor sy gesig gegooi,” het Danie gesê.
Moleko se plosslag het ál flouer geword en Danie het kunsmatige asemhaling op hom toegepas. Die Cloetes het met Moleko en Aron na die kliniek in Piet Plessis gejaag, waar Moleko dood verklaar is.
Bron: Beeld