
Hy wil die omstrede vakbondleier, mnr. Nosey Pieterse, eerder aan sy tafel hê, “want dan weet ek waar hy is”, sê mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van Graan SA.
Hy het by ’n streekvergadering van Graan SA by Delmas gesê dit was vir hom aanvanklik ’n groot skok toe hy verneem het dat minister Tina Joemat-Pettersson vir Pieterse, leier van die vakbond Bawusa, as ’n trustee van die Wintergraantrust aangestel het.
“My eerste reaksie was dat ek nie ’n pad saam met hom kan stap nie. Ek kan nie saam met hom werk nie. Wat is sy motief en watter bydrae kan hy lewer? As 'n mens egter rustig na uitdagings kyk, kom jy tot ander insigte.
Ons voorgangers het vir ons strukture geskep wat ons as vanselfsprekend aanvaar en ons in ’n gemaksone geplaas het. Daarom vra ek: Kom ons pas aan by dit wat op ons pad kom. Kom ons kom uit ons gemaksone en fokus op dit wat belangrik is.”
Respek vir mekaar
Hy sê dit is goed dat Pieterse daar kom sit en kan besef dat landbou nie oor politiek gaan nie. Theron glo om verhoudings te bou is uiters belangrik. “As ons in Suid-Afrika sukses wil bereik met ons besigheid, moet ons verhoudings bou – verhoudings onder mekaar, met ons werkers, met die gemeenskap. Ons moet mekaar leer verstaan en respekteer.”
Hy sê Graan SA wil sy verhouding met Agri SA ook uitbou en ontwikkel sodat daar strukture kan wees waarop almal trots sal wees. Theron glo daar gaan vir almal nog baie “Nosey-oomblike” wees. Elkeen se reaksie daarop gaan die sukses bepaal. “Gaan ek kwaad raak en alles weggooi of ’n sinvolle besluit neem? Dit is die uitdaging.” Hy verwag veral uitdagings met die verkiesing wat op hande is.
Hy sê mense is geneig om te gou swartgallig te raak. “Ons is hier in een van die beste landboustreke in Suid-Afrika ondanks die bedreiging deur die myne. Ons is geneig om net teen die mynhope, steenkoltrokke en swak paaie vas te kyk en nie te besef mens bly in Kanaan nie.”