
Dr. Willem Pretorius, voorsitter van Agri Gauteng, het op die organisasie se kongres in Cullinan gesê dat boere in die provinsie nie met mekaar meeding nie, maar maniere moet vind om mekaar te ondersteun om die bedryf te verbeter.
“Ons het ’n klomp goeie stories om te vertel vanuit die landbou, regdeur van nuwe toetreders tot by die kommersiële landbou en die georganiseerde landbou,” het Pretorius gesê.
Visie vir 2025
Pretorius het die organisasie se visie vir 2025 beklemtoon en gesê dat daar groter klem moet wees op kommunikasie tussen boere, korporatiewe lede en die regering.
“Vir boere wil Agri Gauteng vier fokuspunte bied, naamlik opleiding en ontwikkeling, inligting, netwerke en toegang tot nuwe markte, en laastens ondersteuning van die verskillende afdelings wat binne Agri SA bestaan. Dit is ’n vraag wat ons deurentyd van ons lede vra: Hoe kan ons uit hierdie fokuspunte beter met ons boere skakel?”
Agri Gauteng is in die unieke situasie dat hy ’n groot aantal korporatiewe lede het, met sowat 60% van Suid-Afrika se landboumaatskappye met hul hoofkantoor in Gauteng. “Vir ons korporatiewe lede is skakeling met ons boere en met die regering uiters belangrik, asook toegang tot ons lede. Sodoende word inligting beter versprei en is daar ’n simbiotiese verhouding wat vir almal tot voordeel is.”
Wat skakeling met die regering betref, het Pretorius gesê dit is moeilik om verhoudings met die plaaslike regering te bou, grootliks weens ’n hoë personeelomset, maar dat die organisasie steeds ’n goeie verhouding met die plaaslike regering het. “Dit is uiters belangrik dat skakeling tot beter uitruiling van inligting lei. Ons wil nie sonder die regering die bedryf bou nie. Net soos ons die regering se hulp nodig het, het hy die private sektor en sy belanghebbendes in die landbou nodig om die bedryf te versterk.”