As alles volgens plan verloop sal dié dam se wal oor twee jaar 3 meter hoër wees en die dam sal 25% meer water kan hou as voor 2016. Die departement van water en sanitasie het onlangs aangekondig dat ’n permit vir werk aan die damwal deur sy veiligheidskantoor aan die professionele span uitgereik is wat verantwoordelik sal wees vir die ontwerp en bou van die hoër wal.
Die dam se wal is in 2016 by die oorloop afgebreek sodat bouwerk aan ’n hoër wal kon begin. Dit sou die dam se oorspronklike kapasiteit met 25% vergroot. Met die laer wal kon die dam die afgelope sewe jaar net 60% van sy oorspronklike kapasiteit van 156,6 miljoen kubieke meter water hou.
Deur die nuwe damwal 3 meter hoër te bou, sal die dam se houvermoë nou vergroot word tot 195 miljoen kubieke meter.