
Mnr. Gugile Nkwinti, minister van waterwese en sanitasie, het verlede week gesê dié projek is een van die vyf projekte waarop die departement van waterwese en sanitasie gaan konsentreer.
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en omgewingsake, het gesê dié aankondiging is verblydend en sy departement sien daarna uit om te help waar hy kan.
Die oogmerk met die projek is om die damwal 13 m hoër te maak en sodoende die bestaande kapasiteit te verdubbel. Dié verhoging sal dit moontlik maak om ’n bykomende 5 000 ha landbougrond te besproei. Dit sal nie net die provinsie se ekonomiese groei ’n hupstoot gee nie, maar ook die Wes-Kaap se grondhervormingsprojekte ondersteun, soos die opkomende boere wat 25 000 ha in die Ebenezer-grondeis gekry het.
Probleme
Die projek het egter uit die staanspoor verskeie probleme gehad. Die departement se bou-eenheid het in September 2016 werk aan die damwal gestaak omdat me. Nomvula Mokonyane, die voormalige minister, op ’n tenderproses aangedring het. Bouwerk sou in September 2018 hervat word, maar dit is tot Oktober uitgestel omdat enkele uitstaande kwessies, soos boupermitte, nog Nkwinti se aandag nodig gehad het. Die gesloer met die projek het nie net tot gevolg gehad dat landbou-uitbreidings nie kon voortgaan weens ’n tekort aan water nie, maar dit het ook belastingbetalers tot nou toe R100 miljoen uit die sak gejaag.
Die vordering wat met die projek gemaak word, saam met die feit dat die dam tans 36,4% vol is vergeleke met 17,1% op die ooreenstemmende tyd verlede jaar, is goeie nuus. Volgens die departement kan daar nog vertragings en struikelblokke wees gedurende die vyf jaar wat die projek kan duur.
Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê werk het voor die amptelike begindatum van 8 Oktober verlede jaar begin, maar vorder stadiger as wat verwag is. “Die minister het as gevolg daarvan afgevaardigdes aan die provinsiale regering beskikbaar gestel om projekte soos hierdie een op te volg om dienslewering te versnel.”
Hy sê hoewel beoog word om die projek teen Oktober 2023 af te handel, hang dit nie net af van enige vertragings nie, maar ook die weer. “Die bouwerk kan slegs voortgaan wanneer die dam se vlak laag is. Aangesien die winterreën op pad is, sal dit dus eers vroeg volgende jaar voortgaan, maar tot dan word met ander bouwerk voortgegaan.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.