
Ses maande nadat me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, bouwerk aan die damwal van die Clanwilliam-dam laat staak het vir ’n tenderproses, staan werk steeds doodstil, terwyl bouers wag vir die tender om toegeken te word.
Boonop sal die gesloer met die projek na verwagting die koste met R1 miljard laat styg, terwyl landbou-uitbreidings weens watertekorte nie kan voortgaan nie.
Die Departement van Water en Sanitasie het verlede Junie aan Landbouweekblad gesê die voorbereidende werk om die wal te verhoog, is byna afgehandel.
Die bouwerk aan die wal self sou tussen September verlede jaar en Januarie vanjaar begin het.
Werk is reeds voltooi
’n Suiweringsaanleg en werkswinkels is reeds voltooi, toegangspaaie is geteer en 66 eiendomme wat deur die verhoogde damvlak geraak word, is onteien.
Die mikpunt is om die wal met 13 meter te verhoog en die dam se bakmaat met 70 miljoen m³ te vergroot. Die projek sou na raming sowat R2,2 miljard kos en in 2019 voltooi word.
Landbouweekblad het intussen vasgestel dat werk aan die damwal in September verlede jaar gestaak is en dat geen konstruksiewerk tot op hede verder aan die damwal gedoen is nie.
Die Departement van Water en Sanitasie se konstruksie-eenheid, wat voor Mokonyane se ingryping aanvanklik die hele projek sou behartig, het toe reeds kantore en skure opgerig en toerusting gebring om die damwal te bou.
Mokonyane gee opdrag
Me. Margaret-Ann Diedricks, voormalige direkteur-generaal van die departement, het verlede jaar op ’n parlementêre komiteevergadering aangedui dat Mokonyane opdrag gegee het om die projek te staak sodat ’n tenderproses daarvoor afgehandel kan word.
Intussen woon die konstruksie- eenheid se 52 kernpersoneellede nog in die Clanwilliam-omgewing, meld daagliks aan vir werk en gaan saans weer huis toe. Dit blyk dat verdere werk aan die damwal moontlik met ’n jaar kan sloer.
Adv. Busisiwe Mkhwebane, Openbare Beskermer, het in Februarie vanjaar die versoek van die DA toegestaan om ondersoek in te stel na Mokonyane se politieke inmenging.
“Suid-Afrika het ’n uitstekende, ervare dambou-eenheid binne die departement. Waarom dan duurder tenders aanvra nadat reeds besluit is die departement se eenheid sal die projek behartig?” vra mnr. Leon Basson, die DA se adjunk-skaduminister vir water en sanitasie.