
Die brand is Dinsdag, 30 Oktober 2018, byna ’n week na dit ontstaan het, in die George omgewing tot ’n mate onder beheer gebring. Die brand het Maandag woonbuurte in George bedreig, en alhoewel dit onder beheer gebring kon word, is die vuur deur die nag deur stormsterk wind aangewakker en het dit wyd versprei.
Agt mense – twee volwassenes en ses jong kinders – is in die omgewing van Karatara deur die vlamme verswelg toe 12 bosbouhuise by Farleigh afgebrand het.
Teen Dinsdagoggend is sowat 1000 mense uit die Karatara-omgewing verwyder, terwyl ten minste nog 200 mense die gebied wes van Rheenendal moes ontruim.
Teen Dinsdagmiddag was die omvang van die skade op plase in die uitgestrekte gebied nog nie bekend nie, en die grootste bekommernis was plase in die Langkloof, wat Louvain, Schoonberg en Ganzekraal aan die noordekant van die Outeniquaberge insluit.
“Die sterk wind het die brand Maandag oor die berg gedruk,” sê mnr. Nico Bester van die plaas Louvain. “Ons het ons werkershuise ontruim en sowat 10 gesinne word nou in die gastelokaal op die plaas gehuisves.”
Die stormsterk wind het die vuur heeldag aangeblaas sodat Bester sy woonhuis ook Maandagmiddag ontruim het. “Die kinders kon nie skool toe gaan nie, want ons kon nie by George uitkom nie.”
Angs
van Knysna brande
Volgens me. Karen Thomlinson van die plaas Schoonberg het die wind die brand Maandagnag tot teen die plaashuis gedruk. “Die wind het die vonke deur die lug geskiet – ek het só gedink aan die mense van Knysna wat in Februarie verlede jaar dié angs beleef het.”
Volgens Thomlinson het hul eie brandspanne en brandweerpersoneel, asook talle vrywilligers wat die brand van die pad af gesien het, gehelp om die vuur onder beheer te probeer bring.
“In ’n stadium Maandag het die brandweer
onttrek om anderkant die berg te gaan help waar die brand George se woonbuurte
bedreig het, maar so teen twee-uur, halfdrie het CapeNature se brandspanne in
verskeie bakkies hier opgedaag om te kom help.
“Deur die Here se genade het ons geen mense, diere of strukture verloor nie,” sê sy. “Die wind waai nou in ‘n suidwestelike rigting weg van die geboue af, maar dit kan enige oomblik draai.”
Werkershuise ontruim
Volgens mnr. Pieter Campher van die plaas Ganzekraal brand die bergveld steeds, maar die vuur is teen ’n pad onder beheer gebring. “Ons het Maandag ons werkershuise ontruim en wag net dat die wind, wat nou wes waai, draai sodat ons ’n brandpad kan maak om die werkershuise te beskerm.”
Mnr. Russel Hanly, ’n boer van Waboomskraal en voorsitter van die Agri Herold landbouvereniging, sê die wind het die brand Sondagnag oor die berg in die rigting van Waboomskraal gedruk. “Geen skade is aangerig nie, want brandspanne het voorbrande tussen die berg en nabygeleë strukture gemaak en die brand gekeer.”
Volgens hom het die wind die brand toe teruggedruk in die rigting van Herold. “In ’n stadium het die vuur Herold Wines se wingerde omsirkel, maar sover ek weet het hulle nie skade gely nie.”
“Die Outeniquapas is Sondag gesluit en eers weer Dinsdag oopgestel. Ek was in George en moes oor die Robinsonpas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn terugkeer Waboomskraal toe.”