Die laat reëntyd, ’n hoë brandlading en die intense koue van die afgelope tyd is van die grootste redes waarom noordelike dele van die land afgebrand het.
Mnr. Kobus Visser, bestuurder van Working on Fire (WoF) in Gauteng en Noordwes, sê die laat reëntyd het veroorsaak dat grondeienaars nie vroegtydig voorbrande kon maak nie.
“Die spesifieke tye word deur plaaslike brandbeskermingsverenigings (BBV’s) vasgestel. In ons gebied moet dit gewoonlik vanaf Mei tot Julie afgehandel wees. Met die laat reëns het ons probeer om die tydperk te verleng, maar dit het nie eintlik gehelp nie.”
Groen veld en koue
Die groot hoeveelheid groen veld wat as brandstof beskikbaar is, stook die probleem net verder. “Die koue temperature (van die afgelope paar weke) het die gras vinnig laat vrek,” sê Visser.
Nóg ’n oorsaak van die hewige brande is die sterk winde wat die afgelope paar dae woed. Visser sê in sommige gebiede in Noordwes is winde van tot 74 km per uur aangeteken.
Kragdrade blyk die moontlike oorsaak van ’n brand te wees wat etlike duisende hektare veld oor nag in Limpopo afgebrand het.
26 Augustus 2011