
’n Voerkrisis dreig in die Vrystaat en Noord-Kaap nadat verskeie brande duisende hektaar weiding vernietig het. Van die boere wat vroeër uit hul voerbanke skenkings vir medeboere gegee het, het nou self alles verloor. Intussen woed sommige brande steeds en brandverenigings, vrywilligers en spanne van Working on Fire (WoF) werk onverpoos om dit te blus.
Berigte is ontvang van boere wat honderde stuks vee en duisende hektaar weiveld verloor het. Meer as 41 brande het oor die afgelope 72 uur oor ’n wye gebied uitgebreek te midde van sterk winde en weerlig oor die gebied. Vrystaat Landbou het een berig van brandstigting ontvang en ’n brand wat verlede week by die Wondergrotte naby Daniëlskuil ontstaan het, word ook aan brandstigting toegeskryf.
Twee mense moes vir rookinaseming behandel word en daar was ongelukke op die N1 in die Vrystaat weens die digte rook, sê dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou. Die organisasie is nog besig om skade en behoeftes vir hulp te bepaal. “Ons weet van een boer, mnr. Piet van Staden van Dewetsdorp, wat 400 ooie verloor het. Daar is boere wie se hele plaas afgebrand het. Ander boere het grootvee, infrastruktuur en voer verloor.”
Hy sê van hierdie boere wat nou deurgeloop het, het uit hul voerbanke skenkings gedoen vir medeboere in die Suid-Vrystaat wat voorheen geraak is. “Nou is daar bitter min by hulle oor. Nou is hulle self in die nood. Lusern se groeiseisoen is al verby. Die lusern is klaar gebruik en voermaatskappye het reeds groot voerskenkings gedoen met die vorige brande. Hulle sal waarskynlik nie nou dadelik weer kan help nie.”
Armour sê ’n brand wat op meentgrond by Van Stadensrus ontstaan het, word aan brandstigting toegeskryf, maar die oorsake vir die ander brande word ondersoek. Stormweer en weerlig sou waarskynlik ’n rol gespeel het.
Noord-Kaap hard getref
Die Noord-Kaapse boere wat in brande die afgelope week deurgeloop het, het ook ’n reuse-voerkrisis, sê mnr. Willie Aucamp, LP en DA-kiesafdelingshoof van die Kalahari. In die Noord-Kaap woed brande op die oomblik noord van Kuruman op die McCarthy Rest-pad, by Reivillo en by Koopmansfontein.
’n Groot brand het by Daniëlskuil in omgewing van die wonderwerkgrotte Mout Carmel ontstaan en toe in ’n oostelike rigting tot anderkant Koopmansfontein versprei. “Duisende hektaar weiveld het skade gekry en vee het gevrek. In die harwar kon ons nog nie die omvang van die skade bepaal nie.” Hy sê hy hoewel daar nie bewyse van brandstigting is nie, glo hy die brande, wat terselfdertyd op verskeie plekke uitgebreek het, is opsetlik begin.
Baie boere wat deur brande bedreig is, het hul vee in klein kraaltjies gejaag om hulle van die vlamme te red. Nou is daar is nie weiveld op hul plase oor nie en daar moet dringend hulp gereël word. Aucamp het Sondag mnr. Bentley Vass, die Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, gevra om ramphulp te organiseer en hy wag op terugvoering.
Aucamp sê boere en lede van die gemeenskap gaan uit hul pad om mekaar by te staan in hul nood. “Ek wil almal hartlik bedank vir onbaatsugtige wyse waarop hulle mekaar help en aanhou veg om mense en diere in veiligheid te bring, selfs nadat hul eie plase reeds afgebrand het.”
Me. Corné Barkhuizen van Daniëlskuil wat reeds 19 jaar deeltyds saam met haar man, Johan, met skaap boer, het in Januarie vir Landbouweekblad foto’s gestuur van die groot reën van meer as 300 mm wat in die distrik geval het. Maar nou het heelwat van dié mooi weiveld in die slag gebly en boere het groot skade gely.
“Dis regtig baie erg. Dit het Woensdag begin by die Wondergrotte en toe het hulle hom onder beheer gekry. Maar die volgende oggend, net honderd meter verder en op dieselfde tyd as die vorige dag, het dit weer begin brand. Ons wil nie uit ons beurt praat nie, maar dit lyk asof dit brandstigting kan wees.”
Sy sê die wind het so erg gewaai dat die brand nie onder beheer gebring kon word nie. “Toe is hy oor die teerpad Mount Carmel se kant toe en hy trek nou op die oomblik op Delportshoop, padlangs is dit 115 km verder.”
Barkhuizen sê sy het die Donderdagaand in hul skaapkraal gestaan en vir haar man, Johan, ’n foto van die mooi rooi gloed geneem wat sy rondom haar gesien het. “Hy het dit so een kyk gegee en gesê dit beteken dit brand nou wyd. Ons het tot in daardie stadium nog nie besef dat die brande versprei het nie.”
Sy sê aanvanklik het ’n strook gebrand, aangedryf deur ’n sterk wind. Sondag het die wind gedraai en die dele wat in die eerste brande gespaar gebly het, het toe ook afgebrand. “Die boere in die vuur se pad het probeer om hul beeste te red, maar die diere het paniekerig geraak en uitmekaar gespat. Ons is nou besig om hulle te soek.”
Mnr. Johan Breytenbach van die Vrystaatse sambreelbrandvereniging het Sondag gesê tussen 25 000 ha en 30 000 ha is in ’n reuse-brand by Ventersburg vernietig. Wild- en veeverliese is wyd aangeteken, landbou-infrastruktuur ernstig beskadig en ses chalets by die Aldam-reservaat het afgebrand. Die oord se hoofingang is ook in die brand beskadig, wat Saterdag teen 23:00 in bedwang gebring is.
Hy het gesê van 8 000 ha tot 10 000 ha het Saterdag in die distrik Dewetsdorp afgebrand met 400 skape wat in die brand gevrek het.
Die plaaseienaar, mnr. Piet van Staden van die plaas Aanmekaar sowat 70 km suid van Bloemfontein, het aan Netwerk24 gesê die wind was net te sterk en hulle kon nie die ooie van ’n vuurdood red nie.