
Boere langs die Lesotho-grens moet hulself glo staal vir brande wat gestig word omdat ’n grensdraad opgerig word, sê Vrystaat Landbou.
Mnr. Kobus Breytenbach, die voorsitter van die organisasie se veiligheidskomitee, sê dit is glo ’n algemene probleem, veral tydens die brandseisoen wanneer winderige toestande gereeld voorkom.
“Dit gebeur baie wanneer boere nie wil toelaat dat mense hul diere op die boere se grond laat wei nie, of soos nou, wanneer grensdrade opgerig word, of wanneer ’n boer diere wat onwettig op sy grond is, skut,” vertel Breytenbach.
“Hul uitgangspunt is, as hulle nie weiding mag hê nie, sal hulle die boer s’n afbrand, dan het niemand weiding nie.”
Grensdraad
Een van die jongste gevalle het by die plase Balmacara en Goldmansrust in die distrik Wepener voorgekom. Die hele plaas Goldmasnrust het afgebrand en geen weiding is op die plaas oor nie.
Breytenbach sê dié veld is aan die brand gesteek weens die oprigting van die grensdraad deur boere en die Vrystaatse regering.
Intussen word die grensdrade wat reeds opgerig is, afgebreek. Vrystaat Landbou sukkel om die staat te oorreed om die heining te onderhou en herstel. Kyk hier na foto’s van die skade wat reeds aangerig is.
Dié stryd vorm tans deel van ’n hofgeding waarvolgens Vrystaat Landbou die regering hof toe wil vat omdat hy nie aan die skikkingsooreenkoms ten opsigte van die grens voldoen word nie. Leer hier meer oor dit.
7 September 2011