Die Noord-Kaap het sowat 110 000 ha veld verloor weens brande sê Working on Fire (WoF).
Luidens ‘n berig op SA Weather Observer het 80 000 ha in die Winton-omgewing naby Olifantshoek vanaf Maandag (18 Oktober) af afgebrand, terwyl 30 000 ha in die Langberg-distrik in die slag gebly het.
Mnr. Roelof Geyser, algemene bestuurder van WoF, sê die brand het teen Donderdagmiddag steeds gewoed, en twee spanne brandbestryders van WoF, asook twee helikopters en ‘n vliegtuig, is na die omgewing ontplooi.
Hy sê dit is moeilik om so ‘n brand op die grond te beheer aangesien dit bergagtige terrein is en winderige toestande voorkom. Volgens mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, het verskeie vee in dié brande doodgebrand.
Brandwaarskuwings
Intussen sê Geyser boere en ander rolspelers in die Vrystaat is weer op ‘n gereedheidsgrondslag nadat droë en winderige toestande weer voorkom ondanks onlangse koue en reënerige weer.
Boere in die noordelike dele van die land is ook gereed vir moontlike brande aangesien weerstoestande in veral Limpopo baie droog is. “Boere is gedurig op die uitkyk vir brande tussendeur hulle normale dagtake deur aangesien dié tyd van die jaar maar brandseisoen is,” sê mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA.
Mnr. Francois van der Berg, voorsitter van Agri Limpopo, sê die situasie is nog krities in dié provinsie aangesien behoorlike somerreëns nog nie geval het nie. “Ek weet van nog geen nuwe gevalle nie, maar brande het groot skade aangerig in die distrikte van Alma, Thabazimbi en Ellisras.”
25 Oktober 2010