
Meer as 100 000 ha veld het sedert Donderdag (1 September 2011) in die Vrystaat weens brande in die slag gebly.
Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê sowat 70 000 ha is verloor weens die brand tussen Jagersfontein en Smithfield wat ná ’n voertuigongeluk begin het.
In twee ander brande, een in die distrik Harrismith en een naby Warden, het elk sowat 20 000 ha afgebrand. Procter sê die totale syfer vir die provinsie staan tans op sowat 220 000 ha, wat baie naby aan die gemiddelde syfer van 230 000 ha vir Septembermaande is.
Volgens Procter is hulle tans bekommerd oor ’n bewering dat baie van die brande ontstaan omdat boere brande begin vir vroeë weiding. “Ons verwag dat nog baie brande sal voorkom, derhalwe wil ons boere maan om uiters versigtig te wees.”
Nog lewensverlies
Mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê ’n plaaswerker het die afgelope naweek tydens ’n brand in die distrik Molopo omgekom. “Dit bring die aantal sterftes op vier te staan.”
Du Toit sê nog sowat 20 000 ha het in dié provinsie afgebrand. “Ons staan nou dus op 300 000 ha sedert Augustus.” Hy sê dit was ’n “ongeluksbrand” wat op ’n plaas in die distrik ontstaan het.
Volgens Du Toit is vanjaar een van die ergste brandseisoene wat die provinsie nóg beleef het, en die wind en weersomstandighede bemoeilik sake.
Groot skrik by Wakkerstroom
Intussen het boere van die distrik Wakkerstroom groot geskrik nadat ’n brand Vrydagaand (2 September 2011) daar gewoed het. Mnr. BP Greyling moes op sy plaas, Kerneels, vinnig spring om erge veeverliese te voorkom.
Greyling sê ’n baie sterk wind het gewaai en die brand was binne minute sowat 15 km van sy een veekampe af. Hy het spoedig werkers na die kamp gestuur. As hy vyf minute langer gewag het, sou hy baie vee verloor het. Sowat 25 000 ha het in dié distrik afgebrand.
5 September 2011