Die Vrystaatse departement van landbou het aansoek gedoen vir R121 miljoen se ramphulp nadat brande verwoesting in dié provinsie gesaai het.
Mnr. Malcolm Procter, adjunk-direkteur van bos- en veldbrandtoesig, sê me. Mamiki Qabathe, LUR vir landbou, het verlede Vrydag (5 November) gedurende ‘n vergadering aangekondig dat daar vir dié bedrag aansoek gedoen is.
Procter sê die LUR het Vrydag ook met die brandbeskermingseenheid vergader om te bepaal watter kwessies rondom brande bestaan en watter punte dringend aandag nodig het. “Ons stel tans ‘n begroting saam van hoe die geld bestee sal word sou ons dit ontvang. Dié begroting fokus grootliks op meer brandweerwaens, tegnologie vir die opsporing van brande, asook bewusmakingsveldtogte.”
Meer as 450 000 ha gebrand
Volgens die jongste opname het nog sowat 42 000 ha se veld in die slag gebly in onlangse brande. Procter sê na bewering het 15 000 ha in die Dewetsdorp-omgewing afgebrand, terwyl Kroonstad ‘n verdere 2 000 ha se verloor het.
“Gisteraand (8 November) het sowat 25 000 hektaar se veld ook in die Bultfontein-omgewing afgebrand. Met dié gebiede in gereken, het 450 000 ha reeds vanjaar in die provinsie afgebrand,” vertel Procter.
Wees versigtig
Hy maan boere om versigtig te wees en die weer en droogtetoestande behoorlik in ag te neem wanneer hulle besluit om te brand vir vroeë weiding. Hy raai boere aan om nie te brand as hulle nie seker is oor moontlike reën nie. “50 000 ha het reeds in die slag gebly weens brande vir vroeë weiding.”
Rakende die R5 miljoen se rampfondse wat reeds aan die provinsie toegestaan is, is nog geen besluite oor herverdeling geneem nie.
9 November 2010