
Vyf brande woed in die Oos-Vrystaat met sowat 9 000 ha wat reeds afgebrand het, aldus die provinsiale departement van landbou, bosbou en visserye.
Mnr Malcolm Procter, die departement se adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig, sê een van die brande het Sondagaand (18 September 2011) naby Harrismith ontstaan.
“Ons het nog nie dié jaar baie brande in dié distrik gehad ná die groot skade wat verlede jaar aangerig is nie. Maar met ‘n wind van 35 km/h is ons Maandaag in die moeilikheid,” vertel Procter.
Working on Fire
Volgens Procter spook drie Working on Fire-spanne om die brande in die gebied te beveg, terwyl die hulp van helikopters ook ingeroep is. Twee brande woed in die Ficksburg-distrik, twee naby Harrismith en een tussen Clarens en Fouriesburg. Verlede jaar het sowat 70 000 ha tussen dié twee laasgenoemde dorpe afgebrand.
Dit is nog nie duidelik of van dié brande weens brandstigting ontstaan het nie, maar Procter sê van die boere wat geraak word, beweer dat van die brand naby die N3-hoofweg begin het.
Intussen sê mnr. Cor van Vuuren, voorsitter van Agri Noordwes, geen groot brande het die afgelope naweek in die provinsie voorgekom nie. “Mense vertel wel van brande wat sporadies voorgekom het, maar omdat die wind nie baie sterk was nie, kon hulle dit maklik blus.”
19 September 2011