
Die feit dat die reënseisoen in die somerreënstreek laat aangebreek en tot laat voortgeduur het, en die winter later as gewoonlik sy greep op die land verstewig het, kan daartoe lei dat die brandseisoen tot later as gewoonlik kan voortduur.
Die een voordeel van die laat aanvang van die rypseisoen is wel dat dit die aanvang van die brandseisoen vertraag het, sê mnr. Johan van den Berg. Die brandseisoen in die binneland strek tradisioneel van Junie tot September, na gelang van wanneer die eerste goeie lentereën voorkom.
“Dit is veral in die maande rondom Augustus wanneer koue fronte baie sterk weste- tot noordwestewinde oor die binneland veroorsaak dat toestande vir brande gunstig is. Gedurende daardie tydperk begin die dagtemperature ook warmer word, die lug is uiters droog en die eerste somerreënstelsels begin ontwikkel. Baie van dié stelsels het baie min reën tot gevolg, maar dit bring gewoonlik donderweer wat ’n groot oorsaak is van veldbrande,” sê Van den Berg.
Brandbare materiaal
’n Ander groot bydraende faktor is die hoeveelheid brandbare materiaal wat in die veld beskikbaar is. Van den Berg sê in dié seisoen is daar baie brandbare materiaal aan veral die oostelike dele van die land. “Daar is redelik baie brandbare materiaal oor die grootste gedeelte van Noordwes, die Vrystaat, die oostelike dele van die Noord-Kaap, groot gedeeltes van die Oos-Kaap en dan bykans die hele KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga.”
Die heersende droogtetoestande oor die westelike dele van Noordwes, die Noord-Kaap en gedeeltes van die Oos-Kaap beperk die hoeveelheid brandbare materiaal. “Die grootste risiko wat die hoeveelheid brandbare materiaal betref, is dus oos van ’n lyn vanaf Vryburg in Noordwes tot by Port Elizabeth in die suidooste van die Oos-Kaap.”
Die risiko oor die winterreëngebied is laag omdat die meeste gedeeltes in dié streek redelik groen is.
Wat die eerste goeie reënval (25 mm of meer se reën) oor die somerreënstreek betref – wat die einde van die brandseisoen sal beteken – sê Van den Berg: “Baie min of geen reën word oor die grootste gedeelte van die gebied tot ten minste Oktober verwag nie. Dus kan die volgende paar maande as ’n baie hoë brandgevaar gesien word gegewe die baie brandbare materiaal en verwagte weerstoestande oor groot gedeeltes van die land.”
Ander faktore
Van den Berg sê ’n ander faktor wat ’n groot rol in veldbrande begin speel, is die toename in die bevolking en derhalwe meer verkeer op paaie. “Vure (wat langs die pad gemaak word) en ongelukke is dikwels die oorsaak van groot brande.”
Die Vrystaat sambreelorganisasie vir brandverengings waarsku gereeld dat motoriste nie sigaretstompies by voertuie moet uitgooi nie, veral op dae met sterk wind wanneer die brandrisiko hoog is. Hulle raai mense ook aan om op sulke dae nie oop vure te maak wat buite beheer kan raak nie. Verder word boere aangemoedig om nie instandhoudingswerk wat vonke in die veld kan veroorsaak, op sulke dae te doen nie.
“Boere en ander belanghebbendes wat op hoërisikodae voorbrande maak, is ook dikwels die oorsaak van onbeheerde brande,” maan Van den Berg. Daar is spesifieke riglyne, soos vervat binne die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998, bekend as die Brandwet) waarvolgens voorbrande gemaak moet word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.