
Openbare en private grondeienaars landwyd word aangemoedig om verantwoordelikheid te aanvaar om die risiko van die veldbrande proaktief te verminder, selfs al is die regering se Working on Fire-program (WoF) reeds gereed vir die winterbrandseisoen in Suid-Afrika se somerreëngebied.
Hoewel die amptelike brandseisoen in Suid-Afrika se winterreëngebied einde April geëindig het, het dié provinsie tot in Junie vanjaar nog brande te ervaar. Die jongste het op Lourensford by Somerset-Wes in die Helderberg ontstaan, waar WoF-spanne ontplooi is om dit onder beheer te bring.
Die amptelike brandseisoen in Suid-Afrika se somerreëngebiede het op 1 Junie begin. Vrese is dat die digte plantegroei as gevolg van wydverspreide swaar reën die afgelope somer die lading van brandbare materiaal aansienlik sal verhoog wat kan bydra tot probleme om brande onder beheer te hou en nog moeiliker kan maak om te blus.
WoF het sy openbare waarskuwing herhaal dat klimaatsverandering daartoe lei dat brandseisoene langer word en dat die weerstoestande wat bevorderlik is vir die ontstaan en verspreiding van wegholbrande, meer uitermatig word.
Die WoF het onlangs ’n verklaring uitgereik wat aandui dat brandbestrydingsvliegtuie, saam met 4 000 brandbestryders en hul grondtoerusting, na 160 basisse reg oor Suid-Afrika se winterbrandseisoengebiede ontplooi sal word. Voor en tydens die vroeë stadiums van die winterbrandseisoen het die WoF se geïntegreerde brandbestuursdienste gemeenskappe en grondeienaars ingelig en bygestaan om hul risiko vir die ontstaan van brande vanjaar te beperk.
“Ons doen ’n beroep op gemeenskappe en grondeienaars in die somerreëngebied om ekstra waaksaam te wees gedurende hierdie koue wintermaande en om nie onnodig oop brande te stig wat tot ’n ramp-wegholbrand kan lei nie. Maak seker dat jou eiendom geen puin het wat dikwels ’n hoë lading van brandbare materiaal dra nie, en dat jy nie bome wat oorhang naby jou eiendom het nie,” lui die verklaring.
Eiendomseienaars word ook aangeraai om brandbare materiaal gereeld uit hul geute te verwyder, oorgroeide plantegroei te verwyder en om brandstroke tussen eiendomme en aangrensende grasvelde te hê.
“Ons doen 'n beroep op grondeienaars en belanghebbendes om by brandbeskermingsverenigings aan te sluit sodat ons hulle kan help om hierdie geïntegreerde brandbestuursdienste toe te pas.” Die WoF raai grondeienaars en belanghebbendes aan om die telefoonnommers van hul plaaslike brandweerdienste byderhand te hou.