
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê volgens die middel van die maand syfers was die oorverhaling op petrol tussen 7c/liter en 14c/liter, terwyl die oorverhaling op diesel van 37c/liter tot 39c/liter. Dinge het ongelukkig die afgelope week begin suid gaan.
“Indien ’n mens na die syfers van ’n week en ’n half gelede gaan kyk, was daar ’n onderverhaling op albei brandstowwe. Die afgelope week was daar ’n daaglikse onderverhaling van sowat R1/liter is. Indien hierdie tendens voortduur, wat blyk om die geval te wees, kan daar in Februarie ’n verhoging in brandstofpryse wees.”
Hy sê prysstygings van Brent-ruolie en olieprodukte het tot die oorverhaling bygedra, asook die verswakking van die rand-dollar-wisselkoers wat tans meer as R17/dollar is.
Beurtkrag en insetkoste
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê stygings in brandstofpryse plaas die landbousektor se winsgewendheid onder druk. “Boere kry op die oomblik bitter swaar as gevolg van beurtkrag, asook die verdere styging in kragtariewe. Ons sien ook nog nie werklik verligting ten opsigte van insetkoste soos kunsmis nie.
“Dan sit ons ook nog met die selfs groter probleem dat rentekoerse, wat sedert 2021 met 350 basispunte gestyg het, moontlik verder sal styg. Die verhoog die boere se skuldlas verder.”
Hy sê Agri SA se tegniese taakspan sal bogenoemde met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling bespreek om die impak daarvan op voedselsekerheid te bepaal. Kragkwessies word ook met Eskom bespreek.
“Energie is van deurslaggewende belang vir die hele landbousektor, maar as dit onbekostigbaar word, word die hele land op risiko geplaas.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.