
Volgens Makube behoort Brent-ruoliepryse in April vanjaar op ’n maandgrondslag met 6,7% te styg tot $64 per vat, terwyl die randwisselkoers in dieselfde tydperk met 1,3% tot R14,95 teenoor die dollar kan verswak.
“Ons betree ’n besige tydperk in die landboukalender wanneer die vraag na en verbruik van brandstof op mediumtermyn toeneem. Die toename in brandstofpryse is sleg vir boere, aangesien produksiekoste waarskynlik regstreeks deur die waardeketting sal toeneem, met ’n wisselende impak op aanplanting, oes, verspreiding en verpakking.”
Makube sê graanboere en vervoermaatskappye in die landbouwaardeketting sal veral in die knyp wees aangesien 80% van graan padlangs vervoer word. Die vee- en tuinboubedryf sal ook geraak word ten opsigte van landwye verspreiding en uitvoer.
Hy sê die prys van olieverwante produkte, soos kunsmis en gifstowwe, sal ook moontlik styg.