
Die verbod op die kleinhandelverkope en verspreiding van petrol en diesel in houers is uiteindelik teruggetrek nadat die netwerkorganisasie vir familieboere, Saai, die departement van minerale hulpbronne en energie met regsoptrede gedreig het.
Regulasies wat die verspreiding van petrol en diesel in houers verbied het, is deur die departement te midde van die landwye onluste en plundering in Julie 2021 uitgevaardig. Die regulasies het nie boere in ag geneem wat brandstof in houers koop en vervoer nie.
Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê hul prokureurs het op 15 Julie 2021 aan mnr. Gwede Mantashe, die minister, geskryf en gevra dat die irrasionele regulasies teruggetrek moet word. “Op 16 Julie het hy aangekondig dat dit teruggetrek sal word, maar dit is nooit gedoen nie.”
Saai se prokureurs het op 22 Julie en 4 November weer aan die minister geskryf en hom versoek om sy onderneming gestand te doen. Weer het niks gebeur nie en in Desember het Saai hofstukke teen Mantashe uitgereik om die terugtrekking van die regulasies af te dwing. Rossouw sê nadat die hofstukke formeel aan die minster beteken is, het hy die terugtrekking van die regulasies in die Staatskoerant afgekondig.
“Die onrus is nou lankal iets van die verlede. Brandstofvoorraad in Suid-Afrika is lankal stabiel. Daar is nie meer ’n behoefte aan enige beperking nie. Die verbod het reeds ’n nadelige uitwerking gehad op die bedrywighede van baie boere wat nie soos voorheen brandstof in houers kon koop nie. Dit is jammer dat ons op die ou end die hof moes nader om die departement te dwing om hierdie irrasionele en nadelige regulasies terug te trek.”