Die brandstofprysverhogings wat volgende maand inskop, is nóg ’n terugslag vir die ekonomie en verbruikers, sê Agri SA.
Die Departement van Energie het aangekondig dat die prys van alle grade petrol op 2 Mei met 28c per liter styg. Dit bring die petrolprys in Gauteng op R12,22 per liter te staan.
Intussen styg die prys van diesel met 9,4c of 8,4c per liter. Diesel sal volgende maand in Gauteng R10,98 per liter kos. Mnr. Dawie Maree, senior ekonoom by Agri SA, sê die hoër dieselprys sal die landbou ’n bykomende R84 miljoen aan produksiekoste uit die sak jaag.
Die hoofrede wat vir die styging gegee word, is die swak vertoning van die rand teenoor die dollar die afgelope maand. Die rand-dollar-wisselkoers het tussen R7,62 en R7,85 gewissel.
E-tolstelsel
Intussen is die organisasie versigtig optimisties dat die hof bevind het die organisasie Opposition to Urban Tolling Alliance (Outa) se saak teen die e-tolstelsel dringend genoeg is om aan te hoor. Luidens ’n berig op Nuus24.com het die Noord-Gautengse Hooggeregshof Woensdag (25 April 2012) dié beslissing gemaak.
Outa het ’n aansoek voor die hof gebring vir ’n dringende interdik om die e-tolstelsel in Gauteng te staak, en regter Bill Prinsloo het die interdik toegestaan. Dié uitspraak beteken tans dat ’n volledige verhoor oor die stelsel gehou sal word, en nié dat die stelsel nie sal voortgaan nie.
Maree sê hoewel hulle optimisties oor dié ontwikkeling is, is hulle bekommerd oor die impak wat die totale skrapping van die stelsel op die ekonomie sal hê. “Ons is ten gunste van die gebruik-en-betaalbeleid, maar ons meen dit moet teen billike en bekostigbare pryse gedoen word.”
Die skrapping van die stelsel kan, volgens Maree, die land se kredietgradering beïnvloed, “en die hele land gaan uiteindelik betaal op ’n groter wyse as waaraan tans gedink word,” vertel Maree.
Die hofsaak duur voort.
Bron: Nuus24.com
25 April 2012